Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 13 DESEMBER 2015

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit. Hierdie uitsendings vind plaas op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers en word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudio opname sowel as ‘n teksweergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG

HAMMIES AMATEURRADIO KLUB AKTIVEER ZS9YOTA

ITU WÊRELD RADIO KONFERENSIE VIND AMATEUR BANDE ONGESKIK VIR NIE-AMATEUR SATELLIETE

BENOEMINGS VIR DIE SARL RAAD EN VERSOEK VIR MOSIES

SPORADIESE E SEISOEN NOU OOP


Bly ingeskakel hiervoor maar eers so paar ander interessante brokkies.


** Vertrek jy binnekort met vakansie? Onthou om 'n klein BHF radio en rigstraler in te pak. 2 meter en 6 meter radios kan sorg vir ure se pret met die moontlike sporadiese E openinge en selfs tropo geut kondisies wat verwag word gedurende Desember en Januarie.

Vroegoggend kan jy verwag om langafstande te werk. Geniet die vakansie en ook die ideale BHF voortplanting wat hierdie tyd van die jaar bied.

** Die SARL se kompetisie handleiding ook bekend as die blou boek kan nou van die SARL se web werf afgelaai word. Soek onder “Contests” vir hierdie handige publikasie.

** Kosovo is toegelaat as 'n IARU Lidvereniging. Na 'n stem wat deur al die Lid Verenigings in IARU Streke 1, 2 en 3, is die Kosovo Amateurradiovereniging (SHRAK) toegelaat as 'n Lidvereniging in Streek 1. Ses en sestig verenigings het ten gunste gestem met vyf teen stemme en drie het buite stemming gebly.

** Johan Sevenster ZS1A het onlangs 'n DXCC-aansoek ingedien, wat hom op gemengde modusse en Stem op die DXCC-Ererol plaas. Johan is maar die derde ZS1 op albei rolle, na ZS1FJ en ZS1AU.

Johan se mees onlangse nuwe kontak was met Willis-eiland,wat hom met net nege DXCC-lande ongewerk laat. Die Ererol eer indiwidue wat minder as 10 huidige lande kort. Johan het nog agt eertydse lande, met 'n groot totaal van 339 krediete.

** Die nuwe ARRL handboek vir 2016 is nou beskikbaar by die Amateurradio ontwikkelings trust se boekwinkel. Daar is slegs beperkte voorraad beskikbaar en met die huidige rand-dollar wisselkoers skommelinge is dit gerusstellend om te weet dat hierdie oplaag teen slegs 'n klein verhoging in prys vergeleke met die 2015 eksemplare verkoop word. Dan is McGraw Hill se boek "Arduino Projects for amateur radio" ook nou beskikbaar. Vir meer inligting en bestel vorms besoek www.amateurradio.org.za

** Estè Gross 'n omroepster by RSG het 'n paar weke gelede besoek afgelê by die SARL en 'n onderhoud gevoer met Jaap Lourens ZS6SAI en Nico van Rensburg ZS6QL oor die Suid Afrikaanse Radio Liga en die stokperdjie amateur radio. Die onderhoud is geskeduleer om uitgesaai te word op 16 Desember tussen 09:00-12:00 in die program Oggend op RSG. Die opname is by die Nasionale Amateur Radio Sentrum by Sentech te Radiokop gedoen. Die opname sal as 'n podcast na die tyd op die RSG webblad beskikbaar wees.


** Dan ‘n versoek. Bevestig asseblief kontakte met ‘n QSL kaart. Daar is steeds amateurs wat werk aan toekenings. Hierdie kaartjies en elektroniese bevestigings is baie belangrik hiervoor. Doen die regte ding en stuur daardie QSL

** Die SA AMSAT Stalletjie by die Suid Afrikaanse Wetenskap Forum, wat op 7 en 8 Desember by die WNNR se konferensie geriewe gehou is, het heelwat belangstelling ontlok. Die stalletjie is besoek deur verskeie hooggeplaastes van die Departement van Wetenskap en Tegnologie asook die SA Ruimteagentskap se opleiding departement. Verskeie van die Kletskous elemente is uitgestal waaronder 'n werkende model van die transpondeerder.

SA AMSAT het ook die "Neem jou wetenskap projek na die ruimte" inisiatief geloods. Vir meer inligting en om bydraes te maak tot die Kletskousfonds, wat grootliks deur radio amateurs gefinansier word, besoek die webblad www.amsatsa.org.za
** Mike Bosch berig: Die Sporadiese E seisoen is nou in volle swang hier in die Suidelike Halfrond. Hou gerus 'n oog op die 50MHz bakens buite die strooi area ook bekend as die "Skip Zone" vanaf ongeveer 08:30 plaaslike tyd. In die verlede is daar verskeie openinge waargeneem rondom die middaguur vanaf Zimbabwe en Zambië toe dié nog TV senders in daardie band bedryf het. Hou maar daardie bakens dop want die "VK LOGGER" voorspel dat die bande onvoorspelbaar gaan wees met goeie Sporadiese E openinge op 50 en 144 MHz.

Etienne Swart ZS6Y berig dat hy 'n kommersiële FM stasie, moontlik met sy oorsprong in die Kaapstad omgewing, verlede Maandag omstreeks 17:30,vir ongeveer 5 minute gehoor het voordat diè weer uit gedoof het.

In die laat tagtigerjare, ongeveer 1989, was daar so sterk opening vir om en by 3 ure waar verskeie ZS2 amateurs, onder andere Hannes Vorster, ZS2BE, en Owen Wheeler, ZS2HZ, met groot gemak stasies soos Kosie du Buison, ZS3E, in Outjo en Hans Moller, ZS2AK, in Windhoek kon werk. Dit is net jammer dat daar daardie tyd nie effektiewe kommunikasiesisteme in plek was om hierdie opening beter te kon benut nie.


** Die Wêreld Radiokommunikasie Konferensie,tydens November 2015 in Genève, het 'n agenda vir die volgende WRC, wat gehou sal word in 2019, aanbeveel aan die Raad van die Internasionale Telekommunikasie-unie. Een van die items op die agenda is van besondere belang vir die klein-satelliet gemeenskap.

Agenda item 1.7 vir WRC-19 lui: "Om die spektrumbehoeftes te bestudeer vir telemetrie, volg en beheer in die ruimte operasionele diens vir nie-GSO satelliete met kortduur missies, om die geskiktheid van bestaande toekennings aan die ruimte operasionele dienste evalueer en indien nodig, nuwe toekennings te oorweeg, in ooreen stemming met Resolusie COM6/19.

Resolusie COM6/19, wat uiteindelik herdoop sal word, spesifiseer die frekwensiebestek wat oorweeg kan word vir moontlike nuwe toekennings. Hulle is 150,05 tot 174 MHz en 400,15 tot 420 MHz.

Een van die faktore wat die konferensie geneem het in die besluit oor hierdie spesifieke frekwensie bestek was "dat sommige nie-amateur satelliete gebruik frekwensies vir telemetrie, volg en beheer in die frekwensiebande 144 tot 146 MHz en 435 tot 438 MHz wat toegeken is aan die amateur-satellietdiens en dat sodanige gebruik nie in ooreenstemming is met Nos. 1,56 en 1,57." Dié twee bepalings van die ITU Radio Regulasies definieer die amateur en amateur-satelliet dienste onderskeidelik.

Die Internasionale Amateur Radio Unie verwelkom die uitsluiting van oorweging van alle bestaande frekwensietoekennings aan die amateur en amateur-satellietdienste. IARU President Tim Ellam, VE6SH, het opgemerk, "Dit is 'n uitstekende resultaat vir die amateur dienste en toon duidelik dat nie-amateur satelliet vervaardigers moet spektrum oorweeg anders as die baie beperkte en druksegmente wat beskikbaar is vir amateur satelliete by 144 MHz en 435 MHz."

** Hiermee die eerste uitnodiging om die benoeming van persone tot die raad van die SARL. Hierdie jaar tree daar weer 'n paar raadslede uit na 'n twee jaar sessie op die raad van die SARL. Hulle is:

Fritz Sutherland ZS6SF
Geoff Levey ZS6C
Hans van de Groenendaal ZS6AKV
Riaan Greeff ZS4PR

Hierdie persone het aangedui dat hul wel beskikbaar is vir herverkiesing

Reëls vir die benoeming
Die benoeming moet op die voorgeskrewe vorm geskied, onderteken wees deur 10 sekondante, of deur 'n klub waarvan ten minste 10 lede aan die SARL behoort.

Raadpleeg asseblief die konstitusie, wat verkry kan word op die SARL webblad, om meer inligting te bekom.

Terselfdertyd is hierdie ook 'n uitnodiging vir die indien van mosies wat tydens die SARL AJV bespreek moet word. Mosies moet kort en bondig wees met 'n duidelike motivering asook onder teken wees deur 'n voorsteller en sekondant

Die sluitings datum vir beide hierdie versoeke is 31 Januarie 2016. Rig jou benoeming en of mosie aan die sekretaris van die SARL by secretary@sarl.org.za of per faks aan 086 552 8487.

** Die ZS6ZU Hammies Amateur Radio Klub beplan om aan die Jong Mense Op Die Lug geleentheid deel te neem op 19 en 20 Desember. Die spannetjie sal die roepsein ZS9YOTA, deur middel van twee HF stasies, aktiveer vanaf die Nasionale Amateur Radio Sentrum, te Sentech Radiokop. Hulle beplan om vanaf 12:00 uur Saterdagmiddag tot 12:00 Sondagmiddag daar te wees.

As jy onder die ouderdom van 25 is word jy hartlik uitgenooi om deel te neem aan hierdie glans geleentheid .Hierdie geleentheid is oop vir almal en ongelisensieerde persone sal ook die toerusting mag gebruik onder die wakende oog van ervare amateurs.

Oornaggeriewe is beskikbaar, maak asseblief voorsiening vir jou eie eetgoed slaap,drink en toiletware asook ‘n flits. Die Klub braai meester, Graham ZS6GL, sal teenwoordig wees om die vuur vroeg Saterdagaand aan die gang te hê. Verversings sal voorsien word.

Om te help om die koste te dek sal 'n klein donasie welkom wees.Vir besprekings en meer inligting,kontak vir Noel ZR6DX 082 490 9934 of vir Graham ZS6GL 083 442 7777 of e-pos zr6dx@iafrica.com.

** Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende persone ontvang:

ZR6JH Johannes Hendrik van Wyk en ZR2JAB Jarrad Brown.
ZS5NAK Noord-Natal Amateur Radio Klub het 'n aansoek gerig om affiliasie te hernu.

Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskap-aansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

Lidmaatskap van die SARL is tans 1596 plus 42 geaffilieerde klubs.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige fakkels nie.

Die gene wat hulle eie frekwensie voorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlek telling van ongeveer 63 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral vroeg oggend en laat middag goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** En nou vir die dagboek van gebeure

13 Desember - die ARRL 10 meter kompetsie
13 Desember - laai 'n kopie van die 2016 Blouboek af
18 Desember - die NARS sluit vir die Kersvakansie
26 Desember – sluitingsdatum vir artikels vir die Januarie 2016 Radio ZS
31 Desember – vernietig jou kopie van die 2015 Blouboek
5 Januarie - die NARS oop vir besigheid

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum vooraf gaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Podcast deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saam gestel deur Dawie Conradie, ZR6DHC, geredigeer deur Ryan Gibson, ZS6GGR, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens


/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003